Oor ons

Waardes en kultuur

VISIE

Om ’n inklusiewe Christelike, Afrikaner koshuis uit te bou waar ons strewe na uitnemendheid, respek vir mekaar en ander, en integriteit hand aan hand loop met ryke koshuistradisies en ’n prestasiekultuur. De Goede Hoop koshuis wil ’n tuiste en atmosfeer vir studente skep waarin vandag se studente tot môre se leiers geslyp word. 

Huiskomitee (hk)

Sowel die mans as die dames het vyf huiskomitee- (HK-)lede wat jaarliks deur De Goede Hoop-studente verkies word. Die vyf HK-lede bestuur in totaal nege portefeuljes wat saam die kultuur, aktiwiteite, prestasie en etos in die koshuis bepaal. Onder leiding van die koshuisouers neem die HK volle verantwoordelikheid vir die suksesvolle bestuur van die koshuis. Hulle is dus daarvoor verantwoordelik  om die toekomstige sukses van De Goede Hoop te verseker.

Koshuisouers

Dit is vir ons ’n groot voorreg om deel word van die De Goede Hoop-familie. Ons is opgewonde om te help skryf aan die suksesverhaal wat oor die volgende paar jaar van die koshuis geskryf sal word.

Ons was albei bevoorreg om as studente in tradisieryke koshuise te kon woon. Dit is ons begeerte dat elke inwoner van De Goede Hoop dieselfde mate van groei mag ervaar wat ons tydens ons verblyf in hierdie wonings ervaar het.

Ons besef dat hierdie voorreg saam met die verantwoordelikheid kom om te help skep aan ’n  gesonde koshuisomgewing waar elke inwoner hulself kan uitleef en kan floreer.

Ek het ’n passie vir jeugontwikkeling en daarom sal ek as koshuisvader baie tyd daaraan bestee om elke inwoner se denkraamwerk te verbreed en hul hopelik te bemagtig met vaardighede wat hul sal help om hul optimale potensiaal te ontdek en uit te leef. Elzeth sal as koshuismoeder daarop gefokus wees om ’n ontfermende omgewing te help skep waarin elke student werklik kan voel dat De Goede Hoop hul huis weg van die huis af is.

Een van die grootste voorregte wat mens ooit kan hê, is om vir ’n jongmens hoop vir ’n toekoms te skep. Ons glo dat ons by De Goede Hoop ’n omgewing sal kan help skep waarin elke inwoner nie net hoop vir ’n  toekoms sal hê nie, maar ook sal leer hoe hulle vir hulself ’n toekoms kan skep.

Vriendelike groete

Ronald & Elzeth Peters

Koshuisouers